slideshow 1 slideshow 1 slideshow 1 slideshow 1 slideshow 1 slideshow 1 slideshow 1
Share

Ons mossie in die Geelhoutboompie

 

Marisa Engelbrecht

Christo

Ons het ‘n Geelhoutboompie geplant. Eers klein, sag, min blaartjies. Aanvanklik het hy stadig gegroei en toe skielik het hy vinniger gegroei en sterk geword, ruig geword, ‘n klein skadu begin gee. Die boompie was ons kind ... ’n boompie wat God geplant het. Hy het nie groot geword nie. Hy gaan nooit ‘n skadu gooi nie, maar hy het baie diep wortel geskiet. Diep in ons harte. Ons het hom natgegooi met trane. Ons het liefde en hoop in die grond ingewerk. Skadus om hom gebou met gebede. Weer gehuil, gebid, gehoop... Dit was nie genoeg nie. Die son se strale was te skerp en te warm.

Nou sit ons in die stof langs ‘n hopie grond wat eens ‘n boompie was. Daar is nie skadu vir die hartseer nie. Ons siele is deur die son geskroei, in die wind gegooi en nie eens die kraaie wil daarvan vreet nie. Maar die worteltjies van daardie boompie, die worteltjies steek nog tot diep in ons harte. Ons verstaan nou eers die werklike betekenis van woorde soos sielsongelukkig, doodmoeg, doodstil, tyd, donker, .... hartseer.

Daar woed geestelike en emosionele storms in ons gemoedere. ‘n Warrelwind van gedagtes, vrae en “wat as...” of “ek moes...” Nee, die seer is te seer. Die pyn is te seer vir woorde. ‘n Diep, diep seer van die donkerste gat. Die leeg(te). Die skielike niks. Die stilte. Die hopie grond sonder ‘n skaduwee.

Hierdie is ons storie. Ons herinneringe van ons Mossie in die Geelhoutboompie. ‘n Stukkie van ‘n baie diep gebêre worsteling. ‘n Storie wat ons hoop vir ons ook ‘n bietjie heelmaak sal gee. Pleister vir pleister sal die hart toegroei. Met letsels en skeure, maar hopelik, eendag, tog.

 

Mossie in die Geelhoutboompie

Theme by Danetsoft and Danang Probo Sayekti inspired by Maksimer