Doop – 3 Junie 2012
Louis Engelbrecht
Sondag-oggend, 3 Junie 2012 het ons vir Christo ten doop gebring. Dit was beslis ‘n hoogtepunt gewees in ons gesin se lewens. Ek, Marisa, Coert en Zani was só opgewonde en trots gewees op klein Christo. Hy was so ‘n mooi babatjie gewees en ons was so life vir hom. Dit was ‘n dag van liefde gewees. Ons gesin se liefde vir mekaar, maar ook God se liefde vir ons.
Die teksvers was Jesaja 43: 1. “Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne!
Coert het vir Christo die kerk ingebring – Wel, Ouma Sussan het hom uit die moederskamer gebring en vir Coert aangegee. Coert het toe só trots vir Christo tot by die doopvond gebring.
Zani was kort op Coert se hakke en so het ons as gesin voor die Here gestaan om die teken van die doop as belofte van God se liefde te ontvang.
Daar het Ds. Wikus Buys vir Christo gedoop met die volgende woorde: “Jan Abraham Christoffel Engelbrecht, ek doop jou in die naam van die Vader, die Seun en die Heilge Gees – Amen”. Ja, Amen. Dit was so en is ons troos vandag. Die Here het op daardie dag ‘n belofte gemaak dat Hy Christo se Vader is en dat Hy hom nooit alleen sou los nie. Christo behoort aan die Here en sy dood sou dit nooit kon verander nie.
Soos die gewoonte in die kerk is, is ons as gesin die seënbede van Psalm 134:4 toegesing:
“Laat, Heer, U seën op hul daal,
u guns uit Sion hul bestraal.
U wat beveel en - dit geskied,
Wil, Heer, U seën oor hul gebied!”
Na die doop het ons lekker gekuier saam met familie en vriende soos uit die volgende foto’s gesien kan word.
Theme by Danetsoft and Danang Probo Sayekti inspired by Maksimer