Petrus Hendrik Engelbrecht
Baie min is werklik bekend van Petrus Hendrik. Hy is gedoop op 10 November 1794 en is getroud in Graaff-Reinet met Johanna Elizabeth LOMBARD op 15 Januarie 1815.
Sy kinders is almal gebore of gedoop in die omgewing van Somerset-Oos, George en Uitenhage. Dit wil dus voorkom asof hy bietjie rondgetrek het, en dus moontlik ‘n trekboer was.
Johanna Elizabeth was die dogter van Hermanus Stephanus LOMBARD en Anna Catharina DE LANGE. Sy is gebore in Somerset-Oos en gedoop op 17 September 1797. Sy is oorlede op die baie hoë ouderdom van 87 jaar op 24 Julie 1881 op Vlakfontein in die Albert distrik.
Petrus Hendrik en Johanna Elizabeth het 8 kinders gehad:
Cornelis Petrus Johannes, gebore op 22 Desember 1815 en gedoop op 10 Maart 1816 te George.
Anna Catharina, gebore op 4 Junie 1817 en gedoop op 4 Januarie 1818 te Uitenhage.
Hermanus Stephanus, gebore op 10 Junie 1818 te Somerset en gedoop op 4 September 1818 te Uitenhage.
Petrus Hendrik Stephanus, gebore op 25 Oktober 1820 en gedoop op 4 Maart 1821 te Uitenhage.
Aletta Catharina Elizabeth, gebore op 16 April 1822 en gedoop op 29 Mei 1822 te Uitenhage.
Johanna Elizabeth, gebore op 20 Julie 1825 en gedoop op 5 Februarie 1826 te Somerset-Oos.
Johannes Cornelis, gebore op 10 Junie 1828 en gedoop op 20 Februarie 1829 te Somerset-Oos.
Johanna Elizabeth, gebore op 17 Desember 1830 en gedoop op 10 April 1831 te Somerset-Oos.
Johannes Cornelius Christoffel, * 17 September 1833 en gedoop in Januarie 1834 te Uitenhage.
Daar was slegs 2 Nederlandse goewerneur aan bewind gedurende sy lewe naamlik Abraham Josias Sluysken en Jan Willem Janssens.
Die volgende Britse heersers was aan bewind gedurende Petrus Hendrik se lewe: Sir David Baird, Henry George Grey, Du Pré Alexander - Earl of Caledon, Sir John Francis Cradock, Lord Charles Henry Somerset, Sir Galbraith Lowry Cole, Sir Benjamin D'Urban en Sir George Thomas Napier.
In 1793, breek daar weereens oorlog uit met Engeland en Nederland teen Frankryk. Dit het tot gevolg dat in 1795 die Betaafse Republiek tot stand kom, die Nederlandse regering omver gewerp word en die Kaap onder Britse bewind kom na die Slag van Muizenberg. Petrus Hendrik is dus die laaste Engelbrecht in my geslagslyn wat ‘n gebore Nederlandse onderdaan was.
Die oorlog kom tot ‘n einde in 1802 met die ondertekening van die Vrede by Amiens. Die vrede het onder andere bepaal dat die Kaap weer aan die Nederlanders moet oorhandig word, maar onder Betaafse regering. Die VOC is ondertussen bankkrot verklaar in 1798.
Die vrede was egter wankelrig en aan die einde van 1802 daag troepe by die Kaap op saam met Janssens en de Mist om die Kaap te beskerm. In 1806 land Britse oorlogskepe by Bloubergstrand en sluit ongeveer 224 burgers aan by die soldate om die Kaap te verdedig. Die Kaapse mag word egter verslaan deur die Britse oormag tydens die Slag van Bloubergstrand. So word die Kaap weereens Brits in 1806.
In 1811 en ook in 1817 was daar verdure gevegte tussen die Xhosas en die Vryburgers.
Die Britse Setlaars daag in 1820 op in die Kaap.
In 1834 breek daar nog ‘n groot oorlog uit tussen die Xhosas en die Vryburgers en in 1836 begin die Groot Trek. Die Groot Trek was tussen 1836 en 1842. Dit lyk nie asof Petrus Hendrik aan die Groot Trek deelgeneem het nie.