Geurt Engelberts
Die stamvader van ons Engelbrecht familie is gebore in Norden, Oos-Friesland op 1 Februarie 1710 en gedoop in dieselfde dorp in die Evangelies Lutherse Kerk.
Evangelies Lutherse Kerk in Norden verkry van Martin Stromann (www.norden-ludgeri.de)
Die sogenaamde Appell-Krieg burgeroorlog van Oos-Friesland het tussen 1724 en 1727 plaasgevind. Die oorlog was onder andere gekenmerk deur bittere straatgevegte. In April 1727 het veral groot gevegte in Norden plaasgevind. Geurt sou dus as 17 jarige hierdie oorlog persoonlik beleef het
Teen Augustus 1733 bevind ons hom in die hawestad Texel. Van sy reis tussen Norden en Texel weet ons nie veel van nie, maar as ons Google Maps gebruik en aanneem dat hy padlangs sou reis, het die reis ongeveer 350km ver gewees. Ons weet ook nie vir hoe lank hy in Texel gebly het nie aangesien werksoekers nie altyd onmiddelik werk op ‘n skip gekry het nie.
Met Geurt se aankoms in Texel het hy moontlik nie kos, verblyf of ‘n werk gehad nie. Hierdie afleiding word gemaak uit die inskrywing in die soldyboek van die skip Castricum waar hy as matroos begin werk het. Volgens die soldyboek het Geurt met die vertrek van die skip 150 Gulde aan ‘n sekere Pieters geskuld.
In ‘n artikel deur AM van Rensburg (SAILORS AND SOLDIERS - PAY, POSITIONS ETC. deur AM van Rensburg, https://www.stamouers.com/civil-and-sacred/voc/673-beroepe) verduidelik hy die verskynsel van die sogenaamde zielverkopers. Die toestand in Europa was haaglik en werk was skaars. Om ‘n heenkome te vind het mans van regoor Noord Eupora na die VOC hawedorpe toegestroom in die hoop op ‘n heenkome. Met die aankoms in ‘n hawestad soos Texel het hulle egter nie herberg of kos gehad nie, en kon dit maande neem voordat werk op ‘n skip beskikbaar was. Winssoekers het in hierdie behoeftes voorsien (alhoewel in haaglike omstandighede) indien die arme werksoekers ‘n skuldbrief sou teken vir ongeveer 150 Gulde. Dit het dan gewoonlik ook werk op ‘n skip ingesluit. Die winssoekers het dan weer die skuldbriewe verkoop aan sogenaamde zielsverkopers aan wie die aspirant VOC werker dan die geld skuld. Met die begin van diens op ‘n skip het die werker 2 maande se vergoeding vooruit ontvang waarvan ‘n gedeelte aan die winssoeker of zielsverkoper betaal is. In Geurt se geval blyk dit dat sy skuldbrief aan Blassius van Nievelt verkoop is aan wie hy dan die geld geskuld het en aan wie die VOC dan gedeeltes van Geurt se vergoeding betaal het.
Teen 8 Augustus 1733 vind ons Geurt dan aan boord die VOC Spiegelretourschip Castricum as ‘n matroos met baie skuld en teen ‘n vergoeding van 8 Gulde per maand (vergelyk dit met sy totale skuld van 174 Gulde en 11 stuivers). Op hierdie eerste dag koop hy dan ook ‘n skeepskis aan op skuld en op 5 November koop hy 2 hempde.
Die Castricum was 160 voet lank en het met ‘n bemanning van 298 vetrek uit Texel op 8 Augustus 1733 onder leiding van kaptein Hendrik Oterlijk. Op 26 November 1733 kom die skip aan in die Cabo de Goede Hoop. Op die reis het 8 mense gesterf. Een van die wat gesterf het was 'n Pieter Lambers - ook van Norden. Die moontlikheid bestaan dat hulle mekaar dalk persoonlik geken het en miskien vriende was. Miskien het hulle die tog van Norden na Texel saam aangedurf. Hoe dit ookal sy, Pieter Lambers is op pad na die Kaap oorlede op 17 November 1733 – ‘n bietjie meer as 2 weke voor die einde van die vaart.
Uit die dagregister van Goewerneur Jan de la Fontaine:
Donderdag 26 November 1733
alhier qvam aan te landen het schip Castricum met 8 dooden, 21 sieken en wyders welgestelt synde op den 8 th Augustust passades uyt Texel vertrooken
Onder die 21 siekes was Geurt gewees. Hy sou die reis nie verder voltooi nie en sy in die Kaap de Goede Hoop agterbly. Teen Junie 1734 was hy steeds in die hospitaal.
So het dit dan gebeur dat ons Suid-Afrikaanse Engelbrecht stam gebore is alhoewel die van oorspronklik Engelberts was. Engelberts was in werklikheid 'n patroniem wat na sy vader Engelbert Gerdes verwys het. Gedurende die eerste paar jaar aan die Kaap het die familienaam verander vanaf Engelberts na Engelbrecht.
Na Geurt se ontslag uit die hospitaal is hy by Vishoek gestasioneer. In sy aansoek om Vrybugerskap (1756) vermeld hy dat hy op 27 Februarie 1737 op lopende verband as wadrywer aangestel is teen 12 Gulde per maand. Hy is werk egter vir die VOC as kneg volgens kontrak vir Johannes Carolus de Wet vanaf 22 Julie 1737 teen 12 Gulde per maand. Die aanname is dus dat hy meestal diens gehad het as wadrywer vir de Wet. As deel van sy kontrak moes hy spys, drank, tabak en goeie huisvesting ontvang.
Vanaf 18 Junie 1739 werk hy onder kontrak vir Hans Jurgen HONK onder dieselfde voorwaardes, ook aangedui as kneg.
Vanaf 17 November 1740 werk Geurt vir heemraad Johannes Louw Pieterz en word hy vir die eerste keer nie meer aangedui as 'n matroos nie, maar as 'n wadrywer. Volgens hierdie kontrak werk hy ook as kneg. Hy verdien nou egter 16 Gulde en kry twee rolle tabak.
Op 17 Oktober 1745 trou die stamvader in Paarl met Catharina Elizabeth de Jong. Die troue word waargeneem deur Salomon van Echten. In die trouregister word Geurt aangedui as 'n matroos vanaf Oosvriesland in diens van die Kompanjie.
Vandaf 17 November 1746 word Geurt onder kontrak aan sy vrou, „met win sij getrouw is“, geleen. Ook op hierdie kontrak word hy as wadrywer aangetoon. Hy sou onder hierdie kontrak uitgeleen word tot in 1756 toe hy Vryburgerskap ontvang het.
Volgens 'n inskrywing in die skeepsoldyboek het Geurt Vryburgerskap ontvang op 27 April 1756.
Aansoek om vryburgerskap in 1756
Aan den Edelen Gestr: Heere,
Rijk Tulbagh,
raad Extraordinarie van Nederlands
India, mitsgs, gouverneur van Cabo de
Goede Hoop en den resorte van dien enz.
enz. enz. benevens den Ed: Agtb:
Politicquen raad.
Wel Edele Gestr: Heer
en E: Agtb: Heeren!
Geeft met verschuldigde Eerbied te kennen Uwer wel Edele gestr: en E: Agtb: onderdaanigen dienaar Geurt Engelberts van Noorden A0 1733 voor matroos @ fl 9 per maand hier gekoomen en op den 26 Februarij 1737 onder zijn loopend verband aangesteld tot wagenrijder met Riksdaalders 12 maandelijx, hoe hij Suppl. vermeend onder Godes Zeegen genoegsaam in staat te zijn, omme zig alhier, met desselfs ambagt van Huijs timmerman buijten den dienst der E: Comp. op een eerlijke en betaamlijke wijze te kunnen erneeren, derhalven neemt den suppl. de vrijheid zig te wenden tot Uwe Wel Edele Gestr: en E: Agtb: met needrig versoek dat het deselve behaagen mag hem uijt E. Comps dienst te ontslaan, en met het Burgerregt deeser plaatse te begunstigen.
Hoe sy lewe tussen 1746 en 1756 verloop het, weet ons min van. Ons weet wel dat behalwe vir sy oudste seun Willem, sy kinders almal in die Paarl gemeente gedoop is. Willem is wel in die Swartland gedoop. In sy aansoek om vryburgerskap meld hy dat hy sy bestaan as 'n huis timmerman wil maak.
Op Dinsdag 16 Februarie 1762 kry hy 'n stukkie grond van 2 morg op versoek in Klein-Drakenstein. Volgens https://af.wikipedia.org/wiki/Kaapse_maateenhede was 1 morg gelykstaande aan 0,856 532 hektaar. Dus is 2 morg gelyk aan 1.713064 hektaar, wat weer herlei word na 17130.64m². Met ander woorde ongeveer 130 meter x 130 meter.
Hierdie plasie se naam was Leliefontein en was tussen die plase van Pieter Delport (Dekkersvlei) en Paul Retief. (Wildepaardejacht). Die naam Leliefontein bestaan nog vandag in die omgewing soos gesien op die kaart van Google Maps.
Volgens die Drakenstein opgraafrol van 1757 (24 jaar nadat hy as matroos in die Kaap aangekom het en pas 'n vryburger geword het) word aangetoon dat Geurt se gesin bestaan uit een man, een vrou, drie seuns en twee dogters. Verder besit hy geen vee, slawe of enige landbouprodukte. Hy besit egter wel 'n snaphaan en 'n degen (swaard). In die Drakenstein opgraafrol van 1762 nadat hy 'n stukkie grond ontvang het, lyk dit bietjie beter - een man, een vrou, 5 seuns en drie dogters. Hy besit darem nou ook benewens een snaphaan en een degen (swaard) ook 6000 wynstokke en 1 vaatjie wyn.
Resolutie Boek Anno 1762
Dingsdag den 16 Feb 1762
. . . . . . . . . . . .
Synde voorts op het hier om bij Request gedaan versoek,
door den burger Gerrit Engelbregt aan denselven
in Eygendom uytgegeven een stukje huys Erfs en
Thuynland gelegen aan Drakensteyn, tusschen
de Plaatsen van den landbouwer Pieter Delport en
de Wed. van den meede landbouwer Paul Retief, ter
groote van Twee morgen onder Conditie egter, om
om op 't voorsz, stukje Lands geen vee te mogen
houden en dat ook niemand den buuren door
hetselve benadeeld worden.
. . . . . . . . . . . .
Bron: Werk van Prof. SP Engelbrecht by Kerkargief, NHK (P/1/1)
Verkry vanaf Google Maps
Geurt se vrou is iewers gedurende 1765 oorlede aangesien die vendusie van haar persoonlike goedere plaasvind op 15 Julie 1765. Dit is interessant om na die artikels in die vendusierol te kyk. Die groot hoeveelheid timmermansgereedskap wat Geurt terug gekoop het uit die boedel is insiggewend. So ook die feit dat die babawiegie nie teruggekoop is nie. Hulle jongste kind is gebore ongeveer een jaar voor Catharina Elizabeth oorlede is. Dit laat die vermoede ontstaan dat die jongste (Martha) kind dus as baba moes gesterf het. Dit laat Geurt met ten minste 8 kinders wie se ouderdomme wissel tussen 5 en 19 jaar wat hy moes grootmaak sonder die hulp van sy moeder of skoonmoeder.
Geurt se vendusie op 8 November 1774 asook die laaste inskrywing in die soldyboek van die skip Castricum (41 jaar nadat hy aan boord gegaan het) bevestig dat hy i ewers gedurende 1774 oorlede is. Die vendusie het op die plaas van Joost Rijnhard van As plaasgevind. Dit is interresant om daarop te let dat hy meestal handgereedskap agtergelaat het.
Geurt en sy vrou het die volgende 9 kinders gehad:
Willem, gedoop op 27 November 1746 te Swartland.
Gerrit, gedoop op 27 Oktober 1748 te Paarl.
Cornelis, gedoop op 20 Desember 1750 te Paarl.
Elizabeth Catharina, gebore op 20 Januarie 1753 en gedoop op 18 Februarie 1753 te Paarl.
Anna Catharina, gedoop op 7 September 1755 te Paarl.
Johanna, gedoop op 5 Maart 1758 te Paarl.
Pieter, gedoop op 20 Julie 1760 te Paarl.
Frans, gedoop op 20 Julie 1760 te Paarl.
Martha, gedoop op 29 Januarie 1764 te Paarl.
Gedurende Geurt se tyd aan die Kaap het was die volgende goewerneurs aan bewind: Jan de La Fontaine, Hendrik Swellengrebel en Rijk Tulbagh.
In 1755 het Rijk Tulbagh die Prag-en-Praal wette geimplementeer om swierigheid onder die Kaapse inwoners te beperk. Dit was ook die jaar waarin ‘n baie ernstige pokke epidemie meer as ‘n 5de van die Blanke bevolking aan die Kaap uitgewis het. In 1756 breek oorlog uit tussen Frankryk en Engeland. Dit veroorsaak ‘n bloei in die Kaapse ekonomie aangesien beide Franse en Engelse skepe aan die Kaap aandoen. In Desember van 1756 het onder ander 17 Franse oorlogskepe aan die Kaap aangedoen. Gedurende 1761/1762 het ‘n ekspedisie vir die eerste keer tot binne in die hedendaagse Namibie getrek. ‘n Klein pokke epidemie het weereens in 1767 uitgebreek, maar nie soveel dood soos die vorige een veroorsaak nie. In 1774 begin fiskaal Boers sy loopbaan aan die Kaap. Hy was baie ongewild by die Vryburgers en sou groot ongelukkigheid veroorsaak.
Vendusierol van Catharina Elizabeth Engelbrecht: