Hermanus Stephanus Engelbrecht

Geboortedatum: 
Woensdag, Junie 10, 1818
Van: 
Engelbrecht
Geboorteplek: 
Somerset
Doopdatum: 
Vrydag, September 4, 1818
Doopplek: 
Uitenhage
Sterfdatum: 
Saterdag, Junie 1, 1878
Sterfplek: 
Witfontein, Marico
Lewensbeskrywing: 

Hermanus Stephanus was die eerste Engelbrecht in ons geslagslyn wat die Kaapkolonie verlaat het.  Hy is getroud op 17 Desember 1837 met Hester Catharina Regina Mensina ERASMUS in Somerset-Oos.

Hermanus Stephanus en sy gesin was Oosgrensboere gewees. Op 13 Januarie 1839, met die doop van Petrus Hendrik Stephanus, was hulle nog woonagtig aan “Visch Rivier”.

Sy seun Cornelis Petrus Johannes is op 22 Maart 1848 gedoop in Somerset-Oos. Dieselfde datum is egter ook aangedui vir hierdie seun in die Voortrekkerregister, maar met Winburg as die plek van doop. Dus kan ons aanneem word dat Hermanus Stephanus gedurende 1848/1849 die Kaap verlaat het en na die Transvaal verhuis het, en wel vanaf die Somerset-Oos omgewing.

Op 23 Januarie 1850 is die plaas Sendelingspos in die Marico distrik vir hom opgeteken volgens Volksraadbesluit. Sien bylae.Ons weet dus vir ‘n feit dat Hermanus Stephanus reeds in 1850 in die Marico bosveld sou ingetrek het, en dat sy nageslag vir ten minste 150 jaar, in die Marico wêreld sou woon.

Op 30 Maart 1857 het hy saam met sy seun en ‘n aantal ander burgers van Marico ‘n memorie onderteken waar hulle aandui dat hulle teen die pos kommandant-generaal is.

Hermanus Stephanus is oorlede op die plaas Witfontein, Marico op 1 Junie 1878.

Hester Catharina Regina Mensina is oorlede op die plaas Witfontein in Marico op 30 Junie 1884.

Sy kinders is ook almal op verskeie plekke gebore en gedoop naamlik, Grahamstad, Somerset-Oos, Cradock en later in die Potchefstroom distrik.

Sy kinders was:

  1. Petrus Hendrik Stephanus, gebore op 9 November 1838 te Grahamstad en gedoop op 13 Januarie 1839 te Uitenhage.

  2. Hester Catharina Mensina, gebore op 27 Junie 1841 en gedoop op 10 Oktober 1841 te Somerset-Oos.

  3. Hermanus Stephanus, gebore op 21 Junie 1843 te Tarka en gedoop op 16 Julie 1843 te Cradock.

  4. Jacobus Petrus Johannes, gebore in 1844 te Cradock.

  5. Johanna Elizabeth, gebore op 26 April 1846.

  6. Cornelis Petrus Johannes, gebore op 30 Oktober 1847 en gedoop op 22 Maart 1848 te Winburg.

  7. Aletta Hester Catharina, gebore in 1851.

  8. Hester Catharina Regina, gebore op 10 Februarie 1854 te Potchefstroom.

  9. Jan Christoffel, gebore in 1856.

  10. Anna Catharina, gebore op 28 Augustus 1859.

  11. Martha Marthina Anna, gebore in 1861.

  12. Susarra Elizabeth Johanna.

  13. Adriana Cecilia Johanna.

 

Gedurende Hermanus Stephanus se lewe aan die Kaap was hy onder die regering van die volgende Britse heersers: Lord Charles Henry Somerset, Sir Galbraith Lowry Cole, Sir Benjamin D'Urban, Sir George Thomas Napier, Sir Peregrine Maitland, Sir Henry Eldred Pottinger, Sir Henry George Wakelyn Smith.

In die Transvaal was hy onder die leiding van Andries Pretorius, Johan Enslin, Marthinus Pretorius, Stephanus Schoeman, Willem Janse van Rensburg, weereens Marthinus Pretorius, Thomas Burgers en dan ook Sir Theophilus Shepstone.

Die Britse Setlaars daag in 1820 op in die Kaap.

In 1834 breek daar nog ‘n groot oorlog uit tussen die Xhosas en die Vryburgers en in 1836 begin die Groot Trek. Die Groot Trek was tussen 1836 en 1842.

In 1846 vind die Oorlog van die Byl plaas tussen die Kapenaars en die Xhosas. Gedurende 1850 en 1853 vind die soveelste oorlog plaas tussen die Kapenaars en die Xhosas.

Die jare waarin Hermanus Stephanus geleef het in die Transvaal was deurmekaar jare gewees. Dit was tye van burgeroorlog, broedertwis en ook selfs rebellie. Dit was ook ‘n tyd waarin daar verskeie kleiner Boererepublieke bestaan het.

In 1877 het Brittanje die Transvaal sonder slag of stoot geannekseer het.